Almal is Welkom

‘n Spesiale woord van welkom by Hoop Geloofsgemeenskap.

Welkom by Hoop

‘n Spesiale woord van welkom by Hoop Geloofsgemeenskap.

Welkom aan die hoopvolles, die hopeloses, die skames, die vrymoediges, die alleenlopers, die saamlopers, die slimmes, die nie so slimmes, die wat dink hulle is arm, die wat regtig arm is, die wat dink hulle is ryk, die wat regtig ryk is.

‘n Spesiale welkom aan huilende babas en krioelende kleuters; ou mense wat voel hulle is nog jonk, en jong mense wat dink hulle is al groot. Tieners met moed vir die lewe en volwassenes met vrae oor die lewe.

Welkom aan groenes, kunstenaars, oefenverslaafdes, rusbankspesialiste, vegetariërs, koffiedrinkers. Welkom aan verslaafdes, en hulle wat stoei om skoon te bly. Welkom aan vuurvreters, vredemakers, vreugdevolles, vuisvoses, vreemdelinge. Die wat te hard werk en die wat nie werk nie.

Welkom aan gelowiges, amper-gelowiges, sukkel gelowiges en ongelowiges. Spesiaal welkom as jy nie eintlik weet of jy hier moet wees nie, as godsdienstigheid jou benoud maak, as jy bang is die kerk maak jou seer.

‘n Spesiale welkom aan elkeen wat probleme het en kan doen met ‘n gebed, en die wat nie probleme het nie, maar ook kan doen met ‘n gebed.

Ons verwelkom pelgrims, soekers, twyfelaars en veral vir JOU!

Welkom by Hoop. Ons is ‘n geloofsgemeenskap in Somerset-Wes wat op ‘n vars en eiesoortige manier die liefde en hoop van Jesus probeer lewe.

Byeenskomstye

Sondae 09:00 by Curro Sitari Skoolsaal